Humboldtstroom

Die Humboldtstroom.

Die Humboldtstroom, ook genoem die Peru-stroom, is 'n koue seestroom met 'n lae soutgehalte wat noord langs die westelike kus van Suid-Amerika vloei. [1] Dit is 'n oostelike grensstroom wat in die rigting van die ewenaar vloei en strek 500 tot 1 000 km die oseaan in. Die Humboldtstroom is vernoem na die Duitse natuurkundige Alexander von Humboldt al is dit 250 jaar voor Humboldt deur José de Acosta ontdek. In 1846 het von Humboldt metings van die kouewaterstroom in sy boek Cosmos gerapporteer.[1]

Die stroom strek vanaf suidelike Chili (45ste breedtegraad suid) tot noordelike Peru (4de breedtegraad suid) waar koue, opwellende waters deur warm tropiese waters sny om die Ekwatoriale Front te vorm.[1] See-oppervlaktemperature langs die kus van Peru, ongeveer 5de breedtegraad suid, bereik temperature so laag as 16 °C (61 °F).[2] Dit is hoogs onkenmerkend van tropiese waters, aangesien die meeste ander streke temperature van bo 25 °C (77 °F) het. Opwelling bring voedingstowwe na die oppervlak, wat fitoplankton ondersteun en uiteindelik biologiese produktiwiteit verhoog.

Die Humboldtstroom is 'n hoogs produktiewe ekosisteem. Dit is die mees produktiewe oostelike grensstroomstelsel.[3] Dit maak ongeveer 18-20% van die totale wêreldwye seevisvangs uit. Die spesies wat gevang word is meestal pelagies: sardientjies, ansjovis en makriel. Die stelsel se hoë produktiwiteit ondersteun ander belangrike visseryhulpbronne sowel as seesoogdiere (oorrobbe en walvisse) en hordes seevoëls. Periodiek word die opwelling wat die stelsel se produktiwiteit dryf, ontwrig deur die El Niño-Suidelike Ossillasie (ENSO) gebeurtenis, dikwels met groot sosiale en ekonomiese impak.

Die Humboldt het 'n aansienlike verkoelende invloed op die klimaat van Chili, Peru en Ecuador. Dit is ook grootliks verantwoordelik vir die dorheid van Atacamawoestyn in noordelike Chili en kusgebiede van Peru en ook vir die dorheid van suidelike Ecuador. Seelug word deur die stroom afgekoel en is dus nie bevorderlik vir die opwekking van neerslag nie (hoewel wolke en mis geproduseer word).

Kusopwelling is die hooffaktor wat bydra tot die hoë biologiese produktiwiteit van die Humboldtstroom.[1] Opwelling binne die stroom is nie eenvormig oor die hele stelsel nie. Drie noemenswaardige opwellingsubstelsels word deur hierdie stroom vervaardig.

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Montecino, Vivian, and Carina B. Lange. "The Humboldt Current System: Ecosystem components and processes, fisheries, and sediment studies." Progress in Oceanography 83.1 (2009): 65-79. DOI: 10.1016/j.pocean.2009.07.041
  2. Chavez, Francisco P.; Bertrand, Arnaud; Guevara-Carrasco, Renato; Soler, Pierre; Csirke, Jorge; "The northern Humboldt Current System: Brief history, present status and a view towards the future." Progress in Oceanography (2008): 95-105. DOI: 10.1016/j.pocean.2008.10.012
  3. Penven, P., V. Echevin, J. Pasapera, F. Colas, and J. Tam (2005), Average circulation, seasonal cycle, and mesoscale dynamics of the Peru Current System: A modeling approach, J. Geophys. Res., 110, C10021, doi:10.1029/2005JC002945.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search